Die droogtehulp vir die landbousektor wat onlangs deur die Namibiese regering aangekondig is, is net van toepassing vir Julie tot Desember vanjaar. Daarbenewens sluit dit net sekere streke in.

Volgens die Nambië Landbou-unie (NLU) se jongste nuusbrief is gesprekke in dié verband met die direktoraat van landbouproduksie en ingenieursdienste (Dapees) binne die ministerie van landbou, water en grondhervorming gevoer.

Die NLU sê hy het Dapees versoek het om die Otjozondjupa- en Khomasstreek in te sluit as gebiede wat droogtehulp kan ontvang. Dit omdat gedeeltes in die streke ook swaar deur die droogte getref is.

Die LPO het ook ‘n beroep op die direktoraat gedoen om eerder die tydperk vir droogtehulp terug te dateer, aangesien baie boere reeds vroeg in die jaar diere begin verskuif of bemark het in die lig van die droogte.

In verband met die insluiting van meer streke, het die NLU gesê: “Dapees het aangedui dat die versoek oorweeg sal word, maar dat dit slegs gedoen kan word met behulp van beoordeling van die situasie in die streke – wat ‘n tydsame proses is.”

Daar is verduidelik dat Dapees in oorleg met die kantoor van die eerste minister werk.

“Daarbenewens is dit ook iets wat eers met die kantoor van die eerste minister bespreek moet word. Sou die ontleding toon ‘n verandering aan die modaliteite van droogtehulp is wel nodig, sal dit ook eers vir goedkeuring aan die kabinet voorgelê moet word,” het die NLU gesê en bygevoeg sy lede kan daarvan seker wees dat die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) voortdurend druk dat die droogtehulp toegepas en opgevolg word.

“Die vorms vir die droogtehulp sal eersdaags gereed wees en die LPO sal dit na lede stuur sodra dit beskikbaar is,” het die NLU gesê.

Geld vir die droogtehulp sal uit die nasionale noodrampfonds kom. Die kabinet het die ministerie opdrag gegee om droogtehulp in die vorm van ‘n ondersteungingsprogram vir vee in streke soos Omaheke, Hardap en ||Kharas te bied.

Altesaam N$87,4 miljoen sal oor ses maande versprei word, wat sal bestaan uit bemarkingsaansporings vir vee, subsidies vir die vervoer van beeste na en van weidingsgebiede asook subsidies vir die huur van weiding.

Daarbenewens sal voedselhulp ook oor ‘n tydperk van nege maande – vanaf 1 Julie – in die bogenoemde streke uitgerol word.

Dit volg nadat die kabinet reeds in April die kantoor van die eerste minister opdrag gegee het om ‘n bestaande program vir droogtehulp in die Kunenestreek, asook dele in die Erongo- en Omusatistreek, met N$121 miljoen uit te brei. Die program is reeds vanaf April in werking en sal voortduur tot Mei volgende jaar.

Dié droogtehulpprogram is gebaseer op die uitslae van ‘n kwesbaarheidstudie wat in 2022 deur die kantoor van die eerste minister gedoen is.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.