‘n Nuwe formule om die basiese brandstofprys in Namibië te bepaal, beteken vanaf môre verligting by petrol- en dieselpompe in die land.

Die prys van petrol daal met N$1,20 per liter, terwyl die dieselprys met 65c per liter sak. Op Walvisbaai sal die nuwe petrolprys N$21,08 per liter wees en diesel sal N$22,12 per liter kos.

Dit is maar die tweede keer vanjaar dat verbruikers ‘n blaaskans kry. Die enigste ander prysverlaging was in Mei.

Ondanks die jongste daling, is petrol steeds N$5,43 per liter of bykans 35% duurder as in die begin van die jaar. Die dieselprys is N$6,54 per liter of 42% hoër. Vergeleke met verlede September kos petrol 49% en diesel 59% méér.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het gister tydens ‘n nuuskonferensie gesê sedert die begin van verlede maand grond die ministerie die verskepingskoste op maatstafpryse tussen Walvisbaai en Mediterreense lande, die Golf van Arabië en Singapoer.

Die ministerie het besef Namibië voer nie langer die meeste van sy petroleumprodukte van Suid-Afrika af in nie. Die komponent van die verskepingkoers tussen Walvisbaai en Suid-Afrika wat in die vorige formule gebruik is, is dus nie meer regverdig nie, het Alweendo gesê.

HEFFINGS

Die nuwe metode, tesame met beduidend laer internasionale oliepryse en die versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar in Augustus, het tot ‘n oorverhaling van N$3 per liter petrol en N$1 per diesel gelei.

In leketaal beteken ‘n oorverhaling die regering koop petrol en diesel teen ‘n laer prys aan as waarvoor dit aan motoriste verkoop word.

Die ministerie het ook besluit om die tydelike verlaging in brandstofheffings te verleng, het Alweendo bevestig. Dít volg ná die kabinet sowat twee weke gelede die groenlig daarvoor gegee het.

Dié verlagings in heffings deur die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor), die Namibiese Padongelukfonds (MVAF) en die Padfondsadministrasie (RFA) is in Mei vanjaar geïmplementeer en sou aanvanklik net vir drie maande geld. Dit beslaan ’n 50%-daling vir beide die padgebruikers, asook die Namcor-heffings in. Die MVAF se heffing het met 25% gedaal.

Die ministerie het voorts besluit om die groothandelmarge vir brandstof met 20c van N$1,08 tot N$1,28 per liter te verhoog. Dié styging tree ook môre in werking, het Alweendo gesê.

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.