Beesprodusente het teen verlede week Vrydag ’n verdere N$3,692 miljoen in Savanna Beef Processors (SBP) belê – beide uit die beursies van bestaande en nuwe aandeelhouers.

Dit bring die totale bedrag wat produsente tot dusver belê het op meer as N$177 miljoen te staan.

Dit kom terwyl SBP Vrydag 14 Julie ’n derde beleggingsrondte vir plaaslike beesprodusente geopen het, met die aanvanklike mikpunt om die oorblywende N$26,432 miljoen in te samel. Dit, sodat beesboere se beleggings uiteindelik op N$200 miljoen te staan kan kom.

In ’n verklaring wat die SBP se besturende komitee uitgereik het, blyk dit dat beesprodusente gretig is om te belê en word ’n stormloop vir die geleentheid teen 23 Augustus verwag, wanneer SBP ook sy jaarvergadering sal hou.

Die komitee het beesboere daaraan herinner dat diegene wat eerste aansoek doen, eerste die geleentheid sal ontvang om te belê. Beleggers sal voordeel geniet as dit by slagbeurte kom en ’n premie van 3% op die prys van die dag ontvang.

Mecki Schneider, die voorsitter van die SBP-komitee, het bygevoeg dat daar tydens die jaarvergadering ook terugvoering gegee sal word oor vordering wat tot dusver gemaak is in terme van noodsaaklike besluite, sodat Savanna kan voortbeweeg na die konstruksiefase.

“Ons is tans ook besig om met organisasies en institutionele beleggers te skakel sodat ons abattoir ’n werklikheid kan raak. Ons mik om so gou as moontlik N$200 miljoen se beleggings in te vorder, wat eindelik meer beleggers sal lok,” het hy bygevoeg.

AFSNYDATUM

Die SBP-direksie het voorheen gesê hierdie sal die heel laaste geleentheid vir plaaslike beesprodusente wees om aandele deur private plasing te koop en dus SBP-aandeelhouers te word.

Die derde beleggingsvenster sluit weer om 12:00 op 7 September. Die uitkoms van die derde beleggingsrondte sal vanaf 14 September bekend gemaak word.

Dit volg nadat onderskeidelik N$146 miljoen en N$27,56 miljoen tydens die twee vorige rondtes deur Namibiese beesboere belê is – wat sowat 86,8% van die beskikbare aandele is.

Cirrus Capital hanteer ook hierdie beleggingsrondte namens SBP.

SBP beskou enige verdere beleggings deur beesboere as ’n geleentheid om produsente se eienaarskap van die abattoir te versterk. Dienooreenkomstig word geen minimum bedrag vir beleggers vereis nie, maar aandele sal uitgereik word op ’n basis van “dié wat eerste kom, word eerste bedien”.

Verdere navrae kan aan Cirrus Capital gerig word of ’n e-pos kan na savanna.subscription@cirrus.com.na gestuur word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.