Meer as die helfte van Namibiërs moes die afgelope jaar herhaaldelik sonder basiese lewensnoodsaaklikhede klaarkom.

Die land ervaar tans die hoogste vlak en persentasie van inwoners sedert 2006 wat onderskeidelik in die matige en hoë vlakke van armoede val. Inwoners wat die meeste geraak word, is die mees kwesbares wat bejaardes en landelike inwoners insluit, sowel as dié met geen of min formele onderrrig.

Volgens die jongste Afrobarometer-verslag het die aantal inwoners wat tydens die Covid-19-pandemie baie of altyd sonder ’n kontantinkomste was, met ’n derde gestyg.

Skokstatistieke oor die benarde situasie waarin duisende Namibiërs hul tans bevind, wys agt uit tien (79%) was ten minste een keer die afgelope jaar sonder ’n kontantinkomste, terwyl die meerderheid ten minste een keer sonder genoeg kos (64%) en die nodige mediese sorg (57%) was.

Persentasiegewys het meer as die helfte van Namibiërs “matige” (34%) of “hoë”(22%) armoede ervaar wat beteken hulle moes gereeld sonder basiese lewensnoodsaaklikhede klaarkom.

Volgens die verslag is dit ’n styging van 11 persentasiepunte van 45% tot 56% in vergelyking met 2019. Met verwysing na die land se mees kwesbare inwoners het ’n kwart (24%) dikwels of altyd nie genoeg kos gehad nie. ’n Beduidende persentasie (21%) was gereeld sonder water en mediese sorg (17%). Dié steek vorige stygings verby wat in 2008 aangeteken is.

Die grootste armoede is onder inwoners in landelike gebiede (63%) as dié wat in stede woon (52%). Die persentasie van armoede styg onder inwoners ouer as 55 jaar, met 63% van dié ouderdomsgroep wat hoë vlakke van armoede ervaar. Vir die ouderdomsgroep tussen 18 en 25 jaar is dit 63%.

Die hoogste vlakke van armoede is onder inwoners wat geen formele onderrig of net primêre onderrig het en wel onderskeidelik 75% en 73%. Dit teenoor die 34% van inwoners wat naskoolse kwalifikasies het.

Tydens die opname moes respondente antwoorde verskaf oor hoe dikwels en indien ooit hy of sy of familielede sonder genoeg kos, skoon water, medisyne of mediese behandeling of kontantinkomste klaarkom.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.