n Paar gedagtes oor Namibië — wat ook direk van toepassing is op Suid-Afrika — met die kernreënseisoen wat binnekort in styl oop behoort te maak.
Hierdie is half belangrik … want ons werk met volgendevlak-water wat al begin wink na plekke en natuurlik al uitsak oor dele van die Caprivi.
Die meeste van hierdie gedagtes is rééds op ‘n meer lukrake wyse binne plasings en antwoorde gedek, maar dit vlieg maklik verby want facebook is nie altyd inligtingsvriendelik nie.
1. La Niña
Dit bevorder normaalweg ‘n gunstiger reënseisoen met Noordwes-Namibië wat dan ‘n traer oopmaak beleef wanneer vroeë reën makliker gesystap word, wat ook beteken dat algemene westelike indring verder noord ingeperk word.
Hierdie “gunstigheid” is egter steeds onderworpe aan ander klimaatfaktore wat dit inperk of verruim.
Dit waarborg OOK nie goeie reëndekking orals nie.
→ Dit is een of ander wangeloof wat steeds floreer = dat La Niña ORALS goeie reën VERSEKER, selfs binne ‘n groter omgewing van reëngunstigheid.
‘n Onlangse artikel op Landbou.com onderstreep hierdie gebrekkige begrip eintlik mooi, waarin hierdie seisoen vir die Oos-Kaap opgehemel word weens La Niña se voordele, terwyl die afgelope somerseisoen óók ‘n (“sterker” inlei-) La Niña gedra het … Alhoewel dit toe aansienlik beter gegaan het in dele sentraal en oos in die Oos-Kaap was die NIE die geval in dele suid en wes nie.
2. Die Bolug
Die kern van Namibië se reëntraagheid vanjaar lê waarskynlik opgesluit in die bolug.
→ Hier word bietjie teruggeval op kennis en patroonanalise, want om dit feitelik as akkurate wetenskap aan te bied sal aansienliker dieper en breër analise benodig (juis met rekening van ander klimaatfaktore), maar dit staan wel as die STERK veranderlike wat sedert relatief vroeg laasjaar al domineer ÉN wat duidelik visueel die groter lugdrukomgewing vorm en beïnvloed.
Wat kortliks gebeur:
Die sterk golwe in die bolug lewer Bo-trôe — verlengde laagdrukareas as golwe — én kouekern Bo-siklone — geslote laagdrukke met die “berugte” Afsnylaag wat, as die oortreffende fase van hierdie familiegroep, meermale teenoor die publiek aangebied word wanneer meeste van ons stelsels nie op hierdie vlak is nie.
Hierdie bolugstelsels teiken Suid-Afrika sedert laasjaar aansienlik sterker as “normaal” (‘n gevaarlike woord), nadat dit oor etlike jare swakker en skaarser was.
Alhoewel die presiese rede hiervoor ook verdere ondersoek regverdig, flits dit rooi as ‘n baie sterk Mensgedrewe Aardverwarming-alarm = die koue golwe in die bolug is die aarde se manier om deur hitte-uitruiling af te koel.
Waarom die afwesigheid/swakheid? SA is of net meermale gemis en/of ‘n nuwe balanspunt was besig om te ontwikkel, ook terwyl ‘n meer dominante El Niño-fase vir ‘n tyd geduur het (2014-16; 2018-19).
Wanneer die bolug reënenergie sterker na Suid-Afrika verplaas skep dit oor Namibië ‘n aansienlik meer uitdagende reënomgewing, met die “bankrot”-westewind wat meermale kragtig domineer. Dit gebeur alles binne goeie sin en rede weens die plasing van die oppervlaklugdrukstelsels.
→ Hierdie dominansie kwyn egter tans: direk in die bolug self, alhoewel die golwings steeds kragtig bly, maar natuurlikerwys weens die land en see wat opwarm en skuiwe suid ondersteun van die Intertropiesekonvergensiesone (die noordoos en suidoos passaatwind-saamloop oor die see), die oorlandlaagdrukke en moesontrôe (verlengde laagdrukke).
→ Dit is daarom NIE toevallig dat Suider-Afrika NOU so “erg” besig is om oop te maak tydens die opvolg matige-tot-sterker La Niña nie, want die bolug bied nou “meer ruimte”, terwyl grondvlak sterker “terugstoot” … hitte maak saak.
3. Die Atlantiese Oseaan
Seetemperatuur langs Namibië was vir ‘n geruime tyd kouer as gemiddeld. Dit staan natuurlik as simptoom van die groter interaktiewe klimaatomgewing, maar dis ‘n groter streeksdrywer van weer langs die westekant van Suider-Afrika.
→ Wanneer die water langsaan Namibië te koud (warm) is ondermyn (bevorder) dit reën.
Hierdie prent het die afgelope ~3 weke verander en dit is tans warmer as gemiddeld.
Ons kyk darem nog nie na ‘n Benguela Niño nie = wanneer die water “te warm” word en visbronne en -migrasiepatrone negatief affekteer.
4. Wat is op pad?
Reën.
Baie swaar reën, met etlike reëngolwe wat vanaf die tweede helfte van hierdie week deur na volgende week UITGEBREID deurgolf.
→ Ten minste twee, maar ‘n derde een wink (en dan is daar eers “sports”).
Noordwes-Namibia is vir eers meer uitdagend, maar die reëngolwe sal wel voelers daarheen uitsteek = dit is net nog ‘n meer onsekere omgewing … natuurlik moet die kern van Namibië ook net eers ordentlik oopmaak.
Hierdie maak vir Suid-Afrika ook saak, want dit is langs hierdie meer klassieke roete wat tropiese vog sal vloei om ‘n sterk diagonale reënkanaal tussen Namibië en Suid-Afrika oop te maak. Hierdie staan bekend as ‘n Tropiese-gematigde-trog en dit lewer normaalweg wydverspreide swaarreën.
5. Wat van die Groter Seisoen?
Ons is duidelik in ‘n seisoen wat potensiaal dra om historiese grense te verskuif / uit te daag, met breë en algemene reëngunstigheid wat ook na Namibië gaan verplaas = dit sal Groter Suider-Afrika gunstig ondersteun.
Ons is ook naby aan die omgewing waar Tropiese Stories — op LandWater as ‘n meer “ligtelike” verwysing na die familiegroep van Tropiese Siklone, weens verskillende benamings in verskillende wêreldstreke — in die Mosambiekkanaal mag verskyn (moontlik al in die laaste derde van Januarie). Oos van Madagaskar dra egter sterker ontwikkelingspotensiaal vanaf die laaste derde van Januarie … +
→ Let op na nog een wangeloof: Tropiese Stories “steel” NIE vog nie (hulle affekteer wel die vloei van vog) ÉN hul invloed is meesal kortstondig = dae eerder as weke ÉN hulle kan reënval oor Suider-Afrika óók positief affekteer = die roete wat gevolg word maak saak. Hulle staan dus as SIMPTOOM van die GROTER KLIMAATOMGEWING wat heers, eerder as bepaler/drywer daarvan.
Oorkoepelend is Namibië (en Suid-Afrika) in ‘n FOKUSTYD binne die reënseisoen, waar INGELIGTHEID én PARAATHEID ontsettend belangrik is.
Aarde 2.0 gaan ook nou vir ons meer direk en aangrypend wys hoe erg ons haar opgemors het. Sy doen dit eintlik alreeds vir jare.
“Ons” sal steeds (gemeenskaplik) as Mensdom nie luister nie / te stadig reageer en Moedertjie Aarde sal bloot haar wil en krag op ons afdwing … en die onvolhoubare welvaartsindroom — ontwikkel ten alle koste — in die proses ontbloot.
Daar is dus gevolge.
Intussen is dit belangrik dat hierdie seisoen nou mooi in Namibië oopmaak — want dit kan — en dat notas gemaak word hoe seisoene verander, want die sonseisoen en reënseisoen (plantseisoen) sal met tye in die toekoms erg(er) ontkoppel.
Mag dit mooi reën waar dit val en breed val waar dit reën.
Wees ingelig. Wees paraat. Bly veilig.
[Bron – https://www.facebook.com/LandWaterSA]