Namibië beskik oor sy eie Rangeland Early Warning System wat boere en besluitnemers kan benut vir die ontwikkeling van hul jaarlikse weidingbestuurstrategieë.

Hierdie stelsel verskaf betroubare inligting oor die toestand van weiding asook dreigende voedingstekorte, met voldoende tyd om die nodige besluite te neem.

Die sleutelkomponent van die vroeë waarskuwingstelsel is afstandwaarnemingstegnologie wat vrylik beskikbaar is en, naby aan ware tyd, die aktiewe plantegroei oor die hele Namibië heen meet.

Deur die huidige plantegroei-aktiwiteit met die 20 jaar gemiddeld vir een spesifieke gebied te vergelyk, kan ’n objektiewe idee van die status van die weiding verkry word.

Kaarte wat die weidingstatus uitbeeld, word elke tien dae gedurende die reënseisoen (Oktober tot einde Mei) geproduseer.

WEIDING

Veeproduksie in Namibië is bykans heeltemal afhanklik van die produktiwiteit van die weiveld, wat tot baie lae vlakke gedurende erge droogtes kan daal.

Die wisselvalligheid bied ernstige bestuursuitdagings om diere se voedingsbehoeftes teen die beskikbare weiding op te weeg, asook om grondagteruitgang te voorkom.

Vinnige jaarlikse aanpassing by die status van weiding, veral nader aan die einde van die reënseisoen, kan boere geld spaar en ook die weiveld in ’n meer produktiewe toestand oor die lang-termyn hou.

Vir beleidmakers en besluitnemers kan hierdie inligting aandui watter dele van die land moontlik die meeste deur droogte geraak kan word as dit aan die einde van die reënseisoen kom. Dit gee ook voldoende tyd om droogtehulpaksies te beplan.

VOORBEREIDING

Boere kan na die kaarte kyk en in hierdie stadium van die seisoen behoort diegene in die rooi kolle op die kaarte die reënseisoen noukeurig oor die volgende twee maande te monitor.

Sou hulle in die rooi bly, mag dit wees dat hulle ’n ondergemiddelde reënseisoen gaan hê en moet hulle reeds met die vermindering van veegetalle begin.

Op streek- en nasionale vlak behoort besluitnemers die moontlikheid van ’n ondergemiddelde seisoen in die noordwestelike dele van die land te oorweeg, wat sal lei tot ondergemiddelde weiding.

Die situasie moet sorgvuldig gemonitor word en daar moet gedink word aan watter maatreëls ingestel moet word om die boere en gemeenskappe wat die mees kwesbaar iste, by te staan.

Hierdie kaarte, en ander meer gedetailleerde kaarte (dek elke streek en nasionale parke afsonderlik) is beskikbaar op die www.namibiarangelands.com asook per e-pos.

Vir meer inligting of om die e-posse te ontvang, kontak die Rangeland Monitoring Project by e-pos rangemonitor@gmail.com, of kontak dr. Cornelis van der Waal by 081 604 5878.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.