“Vir die mielieboere is die koeël eintlik deur die kerk. Ons staan nou reeds ses weke lank sonder reën en daar is mielies wat reeds gevrek het.”

Só gesels Dawie Kok, bestuurslid van Namibië se Akkerbou Produsentevereniging (APV). Hy sê nasionale oesskattings staan tans op niks meer as 35 000 ton nie. Dit ná verlede jaar se rekordoes van sowat 95 000 ton mielies.

Dit kom nadat landbouers gister aan ‘n biddag vir reën deelgeneem het. Die uitvoerende raad van die Namibië Landbou-unie (NLU) het ‘n beroep op landbouers landswyd gedoen om by dié inisiatief aan te sluit.

“Mielies hou lank en kán vasbyt. Daar is mielies wat geoes sal word, maar as dit glad nie verder reën nie, gaan droëland-mielies ‘n mislukking wees. Dan sal net besproeiingsboere oeste lewer,” sê Kok.

Hy sê droëland-mielies se oeste sal na verwagting ook weens die droogte nie van goeie gehalte wees nie. “Ons sal dalk tweede- of derdegraadse mielies oes, wat nie goeie pryse gaan haal nie. Van die akkerbouers sal dalk net-net hul insetkoste kan verhaal. Daar is ander wat dit nie sal regkry nie.”

Kok sê vir akkerbouers wat nie iets soos ‘n beesboerdery het om op terug te val nie, gaan dit ‘n “moeilike som wees om hul skuld terug te betaal”.

Intussen het die weerkantoor egter gister voorspel dat matige tot swaar reëns vanaf middel vandeesweek in die noordelike-, sentrale asook oostelike dele van die land kan val.

VEEBOERE

“Oor die afgelope weke het beesboere ook besef die droogte is op ons. Veilings is vol en die pryse het gedaal. Op Grootfontein is daar die afgelope weke altyd meer as 1 500 beeste op die veilings gewees,” het Kok gesê.

Hy meen terwyl verdere reën dalk nie werklik van veel hulp vir die land se mielieboere gaan wees nie, kan dit wel nog tot die redding van die land se skaap- en beesboere kom.

“Veral Suideboere het min reën gehad. Dit het egter al in die verlede gebeur dat dit nog teen Paasnaweek reën,” sê hy.

Kok sê landbouers het gehoop dat die sogenaamde La Niña-jaar beter reën sou bring, maar dat die sikloon Freddy waarskynlik ook gedeeltelik daarvoor verantwoordelik kan wees dat dit nie gerealiseer het nie.

“Ons verstaan die sikloon is nou uitgewoed en ons hoop die vog kan ons ook bereik,” het hy gesê.

“Elke dag leef ons biddend uit genade en Sondag 19 Maart kom ons met ekstra fokus voor ons Skepper Heer: Ons land is droog, ons diere en mense kry bitter swaar. Mag elkeen, daar waar julle is, opnuut stil raak in verootmoediging,” lui die NLU se nuusbrief van Vrydag 17 Maart.

“Ons het ons ore uitgeleen aan die voorspellers dat hierdie ’n La Niña-jaar sou wees. Ons het houtgerus geraak. Die teendeel is waar: Ons is afhanklike, baie klein, onmagtige wesens.

“Die uitvoerende raad van die NLU doen ’n beroep op elkeen wat só gelei voel, om op hul plase voort te gaan in aanbidding hierdie Sondag.SWAKKER WEIDING

Intussen toon satellietdata wat deur Namibia Rangelands bygehou word, dat die oorgrote dele van Namibië se weiding tans slegter daaraan toe is. Dit is as daar ‘n vergelyking getref word met data wat sedert 2012 bygehou word oor nasionale plantegroei.

Slegs die sentrale deel van die land tot die sentrale noorde se plantegroei is dieselfde of beter daaraan toe as ‘n langtermyngemiddeld.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.