Teen die agtergrond van Meatco se kontantvloeiprobleem en die belangrikheid van marksekerheid vir Namibiese slagdiere het die Lewendehawe Produsente Organisasie (LPO) die Vleisraad versoek om die uitvoerheffing van 30% op slagdiere te hersien. Dié heffing is ingestel om binnelandse abattoirs te bevoordeel.

Weens begin Julie se vlaag van nuwe uitbrekings van bek-en-klouseersiekte in Suid-Afrika wat ook twee groot voerkrale getref het, is ‘n onmiddellike tekort van tussen 300 en 400 slagbeeste per dag gelaat, sê LPO-voorsitter Thinus Pretorius.

Wat Meatco betref, sê hy die LPO het beide die minister van landbou en staatsondernemings wat nou onder finansies val, versoek om te kyk na die Meatco-struktuur waaraan nie gehoor gegee is nie. ‘n Voorstel was om terug te keer na 2011 se plan om produsente suid van die rooilyn beheer oor Meatco te gee sonder regeringsinmenging of geldelike bystand.

“Nou word sake op die spits gedryf omdat Meatco nie sy kontraktuele verpligtinge teenoor produsente nakom nie. Dit het ‘n rimpeleffek op die hele waardeketting. Kopers (voerkrale en Namibiese boere) koop min diere in op kommersiële veiling wat pryse laat sak het. Toe val Meatco se slagprys ook omdat die speenkalfmark nie meer kompetisie bied nie. Die nuwe uitbrekings van bek-en-klouseersiekte in Suid-Afrika sal die speenkalfprys nog verder afdwing.”

Thinus voeg by dat die Meatco-kontantvloeiprobleem vertroue en beleggings in die primêre bedryf ondermyn. Maksimum waardetoevoeging geskied by dié uitvoer-abattoir wat sy verantwoordelikheid moet nakom, al hanteer Meatco tans net 10 tot 15% van totale beesmarking in die land. Wêreldwyd styg produsentepryse, behalwe in Namibië waar dit daal. Dit sê vir ons beleggersvertroue is onder druk en ernstige kommer heers oor wat volgende gaan gebeur.”

Die LPO-voorsitter wys voorts daarop dat gesprekke deurentyd met die regering gevoer word om by Meatco in te gryp en toe te sien boere kry hul geld. “Ons hoop om spoedig ‘n antwoord te kry. Ongelukkig sal bystand van die regering net ‘n gedeeltelike oplossing wees deurdat die probleem net ‘n bietjie verder in die pad afgeskop word.”

[Bron – Afriforum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.