Ellanie Smit – Namibiese landbou-unies het gesamentlik hul insette aan die kabinet gelewer oor verskeie kwessies, insluitend laat betalings aan produsente, die sluiting van abattoirs in die noordelike kommunale gebiede (NCA), en ’n voorgestelde struktuur vir Meatco.

Dit tydens ’n kabinetsvergadering op 2 Augustus, waar verteenwoordigers van Meatco se bestuur teenwoordig was, saam met verskeie ministers, adjunkministers, uitvoerende direkteure, amptenare van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) en ander hooggeplaastes.

Die vakbonde teenwoordig was die Namibië Ontluikende Kommersiële Boere-unie (Necfu), die Boere-Unie vir Voorheen Benadeeldes (PDNFU), die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), asook die Namibië Landbou-unie (NAU). Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), verbonde aan die NLU, het ook die vergadering bygewoon.

VOORUITSIGTE

Die NLU het ook die belangrikheid van ’n verenigde front tydens die vergadering beklemtoon.

“Na baie beraadslaging by hierdie vergadering, is besluit dat die minister van finansies almal se kommentaar sal insluit en ’n finale voorstel vir besluitneming sal indien.”

Meatco het ’n dag voor dié vergadering ’n verklaring uitgereik wat aandui dat hy reeds meer as die helfte van die 60 000 beeste wat hy begroot het om vir die 2023-’24-boekjaar te slag, geslag het. Meatco glo dat die aansienlike slaggetalle hom ’n hupstoot op sy herstelpad kan gee.

Wallie Roux, ’n onafhanklike landboukenner, het egter gesê ’n entiteit soos Meatco kan nie ’n langtermyn-beslissing oor korttermyn-slaggetalle maak nie.

Roux het gesê die feit dat Meatco meer beeste gedurende Mei en Junie geslag het, weerspieël net die feit dat produsente gedwing is om beeste nou te bemark na aanleiding van die winterseisoen en die verwagte El Niño-weerverskynsel.

Hy het gesê benewens al die statistiek wat Meatco verskaf, moet dit in gedagte gehou word dat dit historiese data is en indien Namibië ’n goeie reënjaar beleef, sal produsente diere terughou om kuddes te bou.

“Meatco sal dus minder diere in die laaste kwartaal van die jaar ontvang. Dit blyk dat so ’n scenario nie deel van hul beplanning is nie. Hul finansiële syfers sal dus weer val omdat daar geen beplanning hieroor was nie.”

Meatco het die afgelope boekjaar ’n verlies van N$118 miljoen gely, volgens sy jaarverslag vir die tydperk 2022–’23.

SYFERS

Volgens Meatco het hy altesaam 38 401 diere – 2 079 van die NCA en 36 322 van gebiede suid van die veeartsenykordonheining (VCF) – teen einde Julie vanjaar geslag.

Daar is begroot om 50 000 diere suid van die VCF en 10 000 diere van die NCA vir die 2023-’24-finansiële tydperk te slag.

“Die hoër aantal beeste wat deur die Windhoekse abattoir kom, kan dui op ’n beduidende ommeswaai in die maatskappy se besigheid,” het Meatco gesê.

Die maatskappy het gesê hy glo die voortsetting van hierdie neigings sal waarskynlik lei tot ’n gekonsolideerde hersteljaar vir die finansiële tydperk vanaf Januarie 2023 tot Februarie 2024.

Volgens Meatco het hy in Mei en Junie goed gevaar deur onderskeidelik sowat N$107 miljoen en N$190 miljoen in inkomste te genereer en hy verwag glo nog ’n wins vir Julie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.