Die kans dat ’n La Niña vanjaar weer ’n houvas oor wêreldwye weerpatrone gaan kry, staan nou al op 70% – sowat drie maal die normale waarskynlikheid.

Boonop stem huidige La Niña-toestande baie ooreen met vorige jare toe daar sterk La Niña-weerstoestande was, soos in 1973, 1975, 1988, 1999 asook 2010.

Terselfdertyd blyk dit dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) se negatiewe fase tot laat in die lente kan voortduur – alles goeie nuus vir reënvooruitsigte vir Suider-Afrika, sê Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige.

In sy weervooruitskouing van Maandag 22 Augustus, sê hy alhoewel daar min tot geen reën tot November vir Namibië verwag word nie, behoort die land gemiddelde tot bogemiddelde reën vanaf die laaste deel van November tot Februarie te ontvang.

“La Niña het sterk teruggebons in die eerste deel van Augustus – tot op relatiewe sterk vlakke vir hierdie tyd van die jaar.

“Na verwagting sal die La Niña die vlakke bly handhaaf tot in Desember of Januarie, voor dit waarskynlik in die tweede deel van die seisoen sal verswak. Die Indiese Oseaan het intussen ook daadwerklik ’n negatiewe fase betree,” het hy gesê.

Dit stem ooreen met die vooruitskouing van die Australiese regering se buro vir meteorologie, wat in hul Enso-uitkykstatus (Enso staan vir El Niño- Suidelike Ossillasie) op 30 Augustus na ’n La Niña-waarskuwing verander het. Die Australiërs verwag dat die weerstoestande daardie land se kans op vloede sal verhoog, terwyl hul riviere en damme steeds baie vol is.

Die Amerikaners se klimaatvoorspellingsentrum het op 11 Augustus aangedui die kans is 86% dat La Niña-toestande tydens ons lente kan intree, terwyl dit na verwagting later sal verswak.

Die sentrum het toe sy Enso-uitkykstatus na ’n La Niña-wag verander en sal na verwagting ’n nuwe uitkykstatus op 8 September uitreik.

BEDUIDENDE TEKENS

Van den Berg sê in die afgelope weke het die belangrike Niño 3.4-gebied se seeoppervlaktemperatuur verder verlaag – van sowat 0,5 °C koeler as normaal in Julie, tot sowat 1,1 °C koeler as normaal tans.

“Dit verteenwoordig ’n matige La Niña, alhoewel dit ’n tydelike verskynsel mag wees. Dit is egter baie naby aan die piek wat in Mei vanjaar bereik is (-1,2 °C).

“Dit is egter van belang as ons dit met Augustus 2021 vergelyk, toe die temperatuur maar net sowat 0,2 °C koeler as normaal was en dus binne neutrale vlakke was. Toe het La Niña-toestande teen Oktober 2021 begin ontwikkel,” verduidelik hy.

“Die huidige Niño-temperature vergelyk sterk met vorige jare, toe daar sterk La Niña’s na vore getree het, soos in 1973 (-1,1 °C), 1975 (-1,1 °C), 1988 (-1,3 °C), 1999 (-1,0 °C) en 2010 (-1,0 °C),” sê hy.

Van den Berg voeg by dat die meeste voorspellings ooreenstem dat La Niña-toestande vanaf Desember kan verswak en vanaf Januarie of Februarie meer neutrale vlakke kan bereik, waar die seeoppervlaktemperatuur in die Niño 3.4-gebied tussen 0,5 °C en -0,5 °C kan wees.

Intussen waarsku Van den Berg boere teen brande, veral omdat dit nou brandseisoen is en “warmer en meer winderige toestande” tans voorkom. Hy meen in die afwesigheid van reën, is die risiko vir veldbrande baie hoog.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.