Ellanie Smit – Meatco moet binne drie weke ’n spesiale algemene vergadering belê omdat geen kworum bereik is by sy algemene jaarvergadering wat Vrydag op Grootfontein gehou is nie en daar nie op mosies ooreengekom kon word nie.

Meatco het ’n stadium bereik waarin hy slegs met die steun van die regering kan funksioneer. Daarsonder sou die maatskappy reeds gelikwideer moes word.

Dit was die algemene konsensus onder bedryfskenners ná Meatco se algemene jaarvergadering waar hy sy finansiële verslag vir 2022-‘23 beskikbaar gestel het.

Thinus Pretorius, die voorsitter van Namibië se Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), het gesê Meatco werk teen ’n verlies van ongeveer N$20 miljoen per week – ’n verlies van sowat N$5 miljoen per dag.

Hy het gesê as Meatco onder die handelswetgewing werk, sou dit onwettig gewees het vir hulle om sake te doen.

“’n Bankrot besigheid mag nie sake doen nie.”

Volgens die onafhanklike ontleder, Rainer Ritter, is Meatco eers deur die staatstoelae van N$86 miljoen gered.

Meatco het die afgelope boekjaar ’n verlies van N$118 miljoen gely, volgens sy jaarverslag vir die tydperk 2022-’23.

’n Boer en die voormalige president van die Namibië Landbou-unie (NLU), Ryno van der Merwe, het Meatco se geldsake as ’n ramp beskryf.

“Hulle is besig om hul eie ego’s te streel. Die probleem by Meatco is patetiese en swak bestuur.”

Hy het gesê boere slag op die oomblik by Meatco omdat hulle beter pryse kry teen sowat N$60 per kg terwyl dit by Beefcor sowat N$55 per kg is.

Met verwysing na Meatco se jaarverslag het Ritter gesê – soos verwag – het die ouditeure in hul ouditmening gesê daar is ’n wesenlike onsekerheid wat verband hou met die lopende kommer rondom Meatco se situasie.

“So ’n oudit is die algemene gesig van Meatco en ’n mens kan ook een in hierdie boekjaar verwag.”

Hy het gesê die omset van Meatco het van N$751,9 miljoen tot N$865,2 miljoen toegeneem.

“Teen konstante pryse was die omset N$85,7 miljoen in 1990 en in die 2023-boekjaar N$86,8 miljoen.”

Ritter het gesê die probleem is dat Meatco markaandeel verloor weens wanbestuur.

Hy het gesê die netto verlies na belasting het verbeter van die vorige boekjaar se verlies van N$205,1 miljoen tot die huidige verlies van N$118 miljoen.

Die ouditeure meen daar bestaan aansienlike onsekerhede oor Meatco as ’n lopende entiteit en dat die instansie se verliese veel groter (sowat N$204 miljoen) sou gewees het as die regering nie ’n reddingsboei van N$86 miljoen aangebied het nie.

Hy het gesê die balansstaat het verder verswak weens die konstante verliese.

Die totale ekwiteit in die balansstaat is slegs N$64,7 miljoen, as die toekenning nie gegee sou word nie, sou die ekwiteit ’n negatiewe getal gewees het. Volgens hom is die totale lenings N$670,7 miljoen en die Ontwikkelingsbank van Namibië dra die grootste risiko.

Meatco se netto verlies na belasting het egter van N$205,1 miljoen in die vorige boekjaar tot die huidige N$118 miljoen verbeter, met inkomste wat ook met 15% van N$752 miljoen tot N$865 miljoen toegeneem het.

Pieter Zensi van die NLU het gesê dit is seker die sesde jaar in ’n ry dat Meatco ’n verlies maak.

Volgens Meatco word hulle winsgewend sodra hulle 60 000 beeste per boekjaar slag. Dit beteken hulle moet 5 000 beeste per maand slag.

Meatco het in Mei ’n rekord van 7 084 beeste geslag en Beefcor 3 231.

“Die kern van die saak is dat Meatco nie verlede jaar in staat was om produsente te betaal totdat die regering ingetree het nie. En daar kon jy dadelik sien dat produsente vertroue in Meatco verloor het,” sê Zensi.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.