Terwyl internasionale weerkenners waarsku El Niño-toestande asook ‘n bonormale warm Indiese Oseaan kan die komende reënseisoen bedreig, is nuwe rekords vir hoë seetemperature tussen April en Mei aangeteken.

Die Australiese Buro vir Meteorologie het verlede week gewaarsku wêreldwye seeoppervlaktes het rekordtemperature bereik in April en Mei.

Daarbenewens sê die buro sy Enso-uitkykstatus bly op ‘n El Niño-waarskuwing. “In die verlede, as kriteria vir ‘n ‘n El Niño-waarskuwing bereik is, het El Niño-toestande in 70% van die gevalle ontwikkel,” het die Australiërs gesê.

Die buro waarsku die oppervlaktemperatuur van die sentrale- en oostelike Stille Oseaan het reeds El Niño-drempels verbygesteek. Daarbenewens dui weermodelle op verdere verhitting, met seeoppervlaktemperature wat El Niño-drempels teen die begin van die somer selfs kan oortref.

Enso staan vir El Niño- Suidelike Ossilasieklimaatspatroon en verwys na ‘n herhalende klimaatspatroon wat meegebring word deur veranderinge in die seetemperature in die sentrale- en oostelike dele van die Stille Oseaan.

Die seeoppervlaktemperature raak dan elke drie tot sewe jaar 1°C tot 3°C koeler of warmer as normaal. Dit het op die beurt ‘n uitwerking op wêreldwye reënneerslae – ook in Namibië. El Niño en La Niña is uiterste vorme van die Enso-siklus en tussen-in word neutrale Enso-toestande gehandhaaf.

ATMOSFEER EN SEE

Die buro sê as dit by aanwysers in die atmosfeer kom, het die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) intussen teruggesak tot neutrale vlakke. Die SOI dien as ’n maatstaf vir die verhouding tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels en moet saamwerk voor klimaatspatrone soos ‘n El Niño ten volle kan vestig.

Die SOI-waardes oor 90 dae is digby aan El Niño-vlakke en volgehoue veranderinge in wind-, wolk- en lugdrukpatrone om El Niño-toestande te versterk, is steeds nie waargeneem nie.

Dit beteken die Stille Oseaan en die atmosfeer trek tans nie saam in die rigting van El Niño-toestande nie – en moet nog eers eenheid bereik voor El Niño-toestande amptelik kan posvat.

INDIESE OSEAAN

Die Australiërs verwag dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) in die komende maande positiewe waardes sal ontwikkel, wat in die algemeen ‘n negatiewe uitwerking op reënneerslaae oor Namibië het.

“Die IOD is tans neutraal, maar al ons weermodelle dui daarop dat ‘n positiewe IOD in die komende maande gaan ontwikkel,” het die buro gesê. Vir Australië beteken ‘n positiewe IOD, wat saam met ‘n El Niño voorkom, dikwels ‘n buitengewoon droë winter-en lenteseisoen.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.