So beskryf die eienaar van die gewilde West Nest Lodge sowat 35 km voor Gobabis, Awie van der Westhuizen, die toneel waar die hoofgebou in ’n brand verwoes is. Die hoofgebou wat die restaurant, konferensiegeriewe, kroeg, kombuis en was- en strykkamer gehuisves het, is totaal deur die brand vernietig.

Die Namibiese polisie se hoof van media, hoofinspekteur Elifas Kuwinga, het intussen bevestig ’n saak van huisbraak met die doel om te steel, diefstal en brandstigting word ondersoek. Volgens Kuwinga het die verdagte na bewering ’n onbekende voorwerp gebruik om die deur van die ontvangsarea oop te breek en sekere items te steel. Die persoon het glo daarna die gebou aan die brand gesteek. Kuwinga sê niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. Die skade word volgens hom op meer as N$1 miljoen beraam.

Die lodge is ’n familiebesigheid, vertel Awie en is 15 jaar gelede begin bou en het twee jaar later sy deure geopen.

“Dit was en is nog altyd vir ons Namibiërs en ons kinders gewees, ons fokus was nog nooit buitelandse groepe nie, dis ons s’n.”

Volgens Awie is alles wat deel van die hoofgebou was, “plat en weg”. Hy het Maandag omstreeks 22:10 ’n oproep van personeel ontvang dat die gebou in vlamme is. In dié stadium is die oorsaak van die brand nog nie vasgestel nie, maar volgens hom was dit nie ’n elektriese fout nie.

“Hulle kyk na ’n klomp goed en wat die brand veroorsaak het, is ’n ope vraag.”

Die toneel sal deur ’n forensiese span ondersoek word, terwyl die K9-eenheid van Gobabis ook die toneel sal fynkam. Die skade sal deur ’n versekeraar bepaal word.

Ten spyte van die reuseverlies, gaan sake steeds voort en bly West Nest se deure oop.

“Die bungalows, tente, kamers en swembad het niks oorgekom nie. ’n Tydelike restaurant en ontvangs word in die kerk ingerig. Gelukkig is hier ’n kombuisarea wat ons kan gebruik.”

Awie erken die Covid-19-pandemie het “ons bietjie afgeknou” en nou die brand.

“Ons gaan as al die ondersoeke klaar is, sloop en opruim en kyk of daar dalk iets onder die as oorgebly het. Maar ons deure is oop en ons kyk vorentoe!”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.