Internasionale kenners gaan koppe bymekaarsit vir verbeterde lewendehawe-waardekettings binne Namibië – waar vee hoofsaaklik van natuurlike weiding afhanklik is.

Die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) het onlangs by ’n internasionale konsortium aangesluit vir die vestiging van ’n multidissiplinêre navorsingsprojek, wat beide die digitale tegnologie- en landbousektor sal insluit.

Die fokus van die projek is die ontwikkeling van oplossings om die doeltreffendheid van lewende hawe wat op natuurlike weiding staatmaak, te verbeter.

Die plan is om verskeie inligting- en kommunikasietegnologie (IKT)-toepassings en -dienste te ontwikkel, wat data van gebruikers sal versamel en oordra.

Die InfoRange-navorsingsprojek bring vennote uit Namibië, Duitsland asook Kenië bymekaar vir ’n inisiatief om die benutting en bestuur van weiding te verbeter. Daar sal ook gekyk word na die verbeterde benutting van natuurlike hulpbronne en doeltreffende produksie waar lewende hawe van weiding afhanklik is.

Die hoofdoel van die projek is om te verstaan hoe bestaande stelsels vir die versameling en deel van dieselfde inligting werk, wat tans deur veeboere vir besluitneming benut word. Daar sal ook vasgestel word wat die tekortkominge van die stelsel is en wat die behoefte van plaaslike gemeenskappe is.

Volgens ’n mediaverklaring wat Nust uitgereik het, word beplan om ’n werktuig te ontwikkel wat veeboere kan help om inligting te kry oor spesifieke gebiede in werklik tyd, wat moet help met besluitneming en dat hulle vinniger op onmiddellike behoeftes kan reageer.

Plaaslike lede wat deel van die InfoRange-span sal vorm, sluit in Nust-navorsers en lede van die Namibia Nature Foundation (NNF). Hulle het onlangs besoek aan die Kavango-Oos- en Omahekestreek afgelê, waar die projek aan gemeenskappe verduidelik is.

“Ons doel was om die belangstelling van plaaslike gemeenskappe in die projek aan te wakker, maar ook insig te kry in die geleenthede en uitdagings vir die benutting van tegnologieë vir doeltreffende lewendehaweproduksie,” het dr. Colin Stanley, Nust se waarnemende visekanselier vir navorsing, innovering en vennootskappe, gesê. Hy is ook die universiteit se hoofnavorser vir InfoRange.

Tydens die streekbesoeke het die navorsers fokusgroepsessies met plaaslike gemeenskappe gehou, waartydens daar gepraat is oor weidingbestuur en die bemarking van vee. Plaaslike boere, hoofmanne en –vroue en streekraadslede het deel van die sessies gevorm.

“Die gemeenskappe het groot belangstelling getoon om saam met InfoRange-navorsers te werk en is toegewyd om seker te maak dat daar met die samewerking volgehou kan word,” het Stanley gesê.

Die Kavango-Oos- en Omahekestreek sal die fokuspunt van die projek wees.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.