Terwyl onderhandelinge vir markte vir plaaslike skaapvleis in die Midde-Ooste sterk onderweg is, blyk dit ook dat die skaapsektor besig is om te herstel, met sowat 700 000 skape wat na verwagting teen die einde van die jaar bemark sal word.

Goliath Tujendapi van die Vleisraad van Namibië het tydens die afgelope Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres op Dinsdag 3 Oktober gesê die skaapsektor verkeer nou in ’n herstelfase ná die skaapskema in 2019 opgeskort is.

“Ek is redelik seker dat Namibië se skaapbemarkingsyfers teen 2025 en 2026 weer sal lyk soos in die gloriedae van 2003, toe meer as ’n miljoen skape jaarliks bemark is.

“Die beleidsomgewing is nou gunstig en alhoewel die grootste aantal skape steeds lewend na Suid-Afrika uitgevoer word, neem die markaandeel van uitvoerabattoirs jaarliks toe,” het hy gesê.

Tujendapi het gesê onderhandelinge in terme van dieregesondheidskwessies vir invoere met die Verenigde Arabiese Emirate en Katar is feitlik afgesluit en die nodige gesondheidsertifikate is uitgereik.

Dit terwyl uitvoerabattoirs nog vandeesmaand opleiding sal ontvang om aan die lande se halaal-vereistes te voldoen.

Die voordeel van die mark is dat Katar se vereiste – naamlik dat skaapprodukte uitgevoer kan word van gebiede wat vir minstens ses maande lank vry van bek-en-klouseer is – ook ’n geleentheid ontsluit vir boere in bek-en-klouseer-sones en –beskermingsones.

“Ek persoonlik dink die markte is ’n goeie opsie vir Namibië se markdiversifisering en dat die sogenaamde GCC-lande (Golf Samewerkingsraad) die toekoms vir Namibie is. Die lande se SPS-vereistes (sanitêre en fitosanitêre) is nie so streng nie, wat neerkom op verminderde produksiekoste en mededingende pryse vir die skaapprodusent,” het hy gesê.

Tujendapi sê dié mark is dalk nie so groot soos byvoorbeeld die Chinese mark nie, maar kan ’n goeie alternatief tot die Suid-Afrikaanse mark wees.

SEKTOR HERSTEL

Hy sê statistiek toon dat die skaapsektor besig is om te herstel, nadat dit jaarliks beduidend ingekrimp het sedert die instelling van die skaapskema in 2004. Die omkeerpunt is teen 2020 bereik.

Vanjaar is daar reeds 574 507 skape bemark, ’n syfer wat tot Desember vanjaar na verwagting nog na 700 000 koppe sal groei.

“Verlede jaar is 76% van Namibiese slagskape plaaslik verbruik, met net 24% wat uitgevoer is – meestal na Suid-Afrika. Verslagting was 2% van die totale produksie,” het hy gesê.

“Tans voer ons die meeste skape uit na Suid-Afrika. Ons produk word ook – geslag – deur Farmer’s Meat Market na die Europese Unie uitgevoer.

“Daarbenewens het ons ’n kwota vir uitvoere na Noorweë – wat ons met Eswatini deel. Laasgenoemde land kan egter nie tans skape lewer nie, wat Farmer’s Meat Market toegelaat het om onlangs tot 75% van die kwota te benut,” het Tujendapi gesê en bygevoeg uitvoerprotokol met China sal na verwagting ook binnekort afgehandel word.

“Dit is egter danksy die Noorweë-kwota dat pryse vir Namibiese skaapvleis tot so ’n mate verbeter het dat produsente plaaslik beter betaal is as hul Noord-Kaapse eweknieë,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Sign In

Register

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.