Ellanie Smit – Die volhoubare benutting van wild deur jag staar ’n wêreldwye aanslag in die gesig, het Pohamba Shifeta, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme gister by die 21ste konsultatiewe forum oor Afrika-wild in Windhoek gesê.
Hy het gesê daar is verskeie individue en organisasies wat maniere vind om die beoefening van jag stop te sit sonder om te dink oor die gevolge wat dit vir bewaring en plaaslike mense se lewensbestaan inhou.
“Dit is my verwagting dat ons die kwessie sal oorweeg en daaroor beraadslaag en meganismes ontwikkel om hierdie aanslag teë te werk. Ek is bly die voorstelle om die invoer van trofeë na die Verenigde Koninkryk te verbied het nie hierdie keer geslaag nie.”
Hy het gesê Namibië glo jag het ’n plek in bewaring en ’n maatskaplike opset, en sal alle pogings ondersteun wat daarop gemik is om goed gereguleerde mens-gesentreerde jag te bevorder.
Shifeta het gesê die forum bied ’n geleentheid om lesse en beste praktyke te deel, terwyl sleutelbedreigings en uitdagings vir wildbewaring en volhoubare benutting ook daartydens bespreek word.
Hy het gesê die sukses van wildbewaring staan steeds voor talle uitdagings én geleenthede, soos marktoegang vir wildprodukte, mens-wild-konflik en klimaatsverandering.
Hy het gesê wildbewaring speel ’n groot rol in baie lande se ekonomieë en is ’n belangrike bestaansaktiwiteit vir landelike gemeenskappe.
“In sommige lande het ons goed ontwikkelde wild-industrieë wat direk en indirek bydra tot werkskepping, landelike ekonomieë sowel as tot die nasionale ekonomie.”
Volgens Shifeta is volhoubare benutting deur jag die kern van hierdie dinamiese wildekonomie.
Hy het gesê die meeste dryfvere van vorige afnames in wildgetalle is vandag nog teenwoordig en meganismes moet gevind word om verdere agteruitgang te stop deur modelle te implementeer wat werk vir beide wild en mense op wie se grond wild voorkom.
“Ons moet maniere vind om wildbewaring en volhoubare gebruik meer voordelig vir die plaaslike gemeenskappe te maak, veral vir diegene wat in landelike gebiede woon.”
Volgens Shifeta is landelike gemeenskappe van kritieke belang wanneer dit kom by die versekering van ’n toekoms vir niebeskermde gebiede in Afrika en elders.
Hy het gesê in Suider-Afrika is die Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronnebestuursprogram (CBNRM) die weg waardeur gemeenskappe deelneem aan en voordeel trek uit wildbewaringsinisiatiewe.
“Die CBNRM-model het tot dusver goed gewerk vir die bewaring van die natuurlewe en om voordele te bring vir gemeenskappe wat rondom wild leef.”
Shifeta het egter gesê daar is ’n behoefte om innoverende benaderings deur bestuur en ander meganismes te vind om voordele op huishoudelike vlak te bewerkstellig, veral noudat huishoudings onder druk is weens ongunstige ekonomiese toestande.
Shifeta het gesê die regering erken om met wild saam te leef hou dikwels ’n koste in, met verhoogde wildbevolkingsgetalle wat uitbrei na gemeenskaplike grond en vrye boerderygebiede wat meer gereelde mens-wild-konflik tot gevolg het, veral olifante en roofdiere in baie gebiede.
Hy het gesê hulle het ’n aantal strategieë ontwikkel, waarvan bewaringsjag een is, om die uitdagings van toenemende mens-wild-konflikgevalle die hoof te bied.
Hy het verder gesê klimaatsverandering hou ook ’n wêreldwye uitdaging vir wildbewaring en plaaslike lewensbestaan in, aangesien gereelde droogtes negatiewe impakte op beide wild- en veegetalle het en mededinging tussen verskeie grondgebruike tot gevolg het.
[Bron – Republikein]