Ellanie Smit – Alhoewel Namibië baie in die landboubedryf doen, is daar ’n gebrek aan koördinasie. Dit volgens ’n oorsigverslag van dié sektor in die land.

Volgens die oorsigverslag van Namibië se landbousektor (JSR) is daar bewyse van prosesse en goeie inisiatiewe wat weens hierdie beperking binne die sektor lank nie geïmplementeer is nie.

’n Konsepverslag is tydens ’n onlangse werkswinkel vir belanghebbers voorgelê.

“Daar is swak koördinasie tussen ministeries en ontwikkelingsagentskappe in die implementering van landboubeleide. Daar is ook nie veel kommunikasie tussen sektore en instellings nie en min dryfkrag om sulke skakels af te dwing,” lui die sleutelbevindinge in die verslag.

HARMONISEER

Die verslag het ook daarop gewys dat ’n gebrek aan data ’n knelpunt is vir beleidsformulering, vorderingsoorsigte en -ontwikkeling.

“Dit is egter opmerklik dat data beskikbaar is, maar wydverspreid is weens die onbeskikbaarheid van ’n gesentraliseerde dataportaal.”

Volgens die verslag moet inligting en data beter gedeel word vir wedersydse aanspreeklikheid in verslagdoening oor vordering.

“Terwyl beleide en regulasies in teorie duidelik kan wees, is instellings geneig om in silo’s te werk,” lui die verslag.

Dit beveel aan dat die formulering van beleide met die lynministeries en -agentskappe geharmoniseer moet word.

“Terwyl die wetlike en beleidsraamwerke onder sektore wat deur verskillende lynministeries bestuur word voldoende is, is daar steeds ’n gebrek aan samehang in die implementering van hierdie beleide, wat dikwels tot die duplisering van pogings lei.”

WEDERSYDSE AANSPREEKLIKHEID

Ndiyakupi Nghituwamata, die uitvoerende direkteur van die ministerie van landbou, water en grondhervorming, het tydens die werkswinkel gesê dit is die eerste JSR-beoordeling vir Namibië.

Dit is in vennootskap met die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) uitgevoer.

Volgens haar het die werkswinkel ten doel gehad om wedersydse aanspreeklikheid en die implementering van die omvattende Afrika-landbou-ontwikkelingsprogram (CAADP) se raamwerk as deel van die beloftes wat ingevolge die Malabo-verklaring gemaak is, te versterk.

Nghituwamata het gesê vastelandopnames oor gesamentlike sektoroorsigte het die belangrikheid van die menings, idees en voorstelle van belanghebbendes in beleid, program en projekontwerp, beplanning, implementering en evaluering beklemtoon. “Die doel van hierdie werkswinkel is om die bevindinge van die JSR-assessering met die belanghebbendes te deel en gesamentlik ’n pad vorentoe te karteer.”

Sy het gesê in hierdie verband is dit baie belangrik dat Namibië die prestasie-uitslae teenoor openbare uitgawes in die sektor in ag neem en maniere bespreek om wedersydse aanspreeklikheid en deelname van belanghebbendes in beleidshersiening, -ontwerp, -implementering en -evaluering te bespreek in ’n poging om by te dra tot die Malabo-verbintenisse.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.