Meatco skuld plaaslike beesprodusente tans tussen N$300 en N$350 miljoen en is reeds vir so lank as 80 tot 88 dae agter met betalings.

“Ons sit nou met die probleem waarteen die LPO al 15 jaar lank waarsku. Ons het almal gewaarsku daar gaan ’n dag kom waar Meatco nie meer sy produsente sal kan betaal nie.”

Dit volgens Thinus Pretorius, die voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), wat gister sy kongres in Windhoek gehou het.

Hy sê daar is beesboere wat Meatco reeds met regstappe dreig, terwyl die bedryf groot ongemak ervaar oor die vleisverwerkingsmaatskappy se versuim om te betaal.

“U kan verstaan om N$300 miljoen uit die bedryf te haal, bring groot uitdagings mee,” het Pretorius gesê.

In dieselfde asem het hy gesê die situasie is nie hopeloos nie weens die feit dat alternatiewe markte tans ontwikkel word, waar daar twee of drie jaar gelede geen sulke vooruitsigte was nie.

MEATCO IS NODIG

“’n Omdraaistrategie is dringend nodig om die ineenstorting van die totale beesbedryf te voorkom. Ons kan nie sonder Meatco klaarkom nie. Daar is ander alternatiewe wat tans ontwikkel word, maar nog nie operasioneel is nie. Die tydsberekening is nie goed nie en tans vind ons onsself in ’n lugleegte en intussen moet ons steeds ons produk deursit.

“Ons vertroue in Meatco is vernietig en alle ‘bewyse’ en beloftes word bevraagteken. Ons kan nie die huidige direksie en bestuur vertrou nie – met uitsondering van die nuutverkose raad, wat voorts aan produsente moet bewys dat hulle ons vertroue waardig is,” het Pretorius gesê.

Hy sê beesboere eis deursigtige, eerlike kommunikasie.

“Hou boere op die plase deur hulle betyds te betaal wat hulle toekom – markverwante pryse.”

HOU MOED

Terselfdertyd het Pretorius produsente aangemoedig om moed te hou omdat daar eindelik alternatiewe markte vir beesboere wink, wat insluit die Savanna Beef Processors Limited (SBPL)-projek wat in die ontwikkelingsfase is.

“Die gebrek daaraan om Meatco sinvol te bestuur en ’n lopende saak te hou, het vir die private sektor die geleentheid gebied om tot die mark toe te tree.

“Nog nooit vantevore was daar vir ons soveel lig in die tonnel soos nou nie. Die laaste 100 meter van ’n 800 meter-resies is die swaarste, maar ons is in die eindstryd,” het hy gesê.

Pretorius het na die LPO se lang geskiedenis van bande met Meatco en relevante owerhede verwys, waartydens die organisasie gepoog het om te help om die vleisreus weer op die regte spoor te kry.

“Ten spyte van die groot media-ophef wat gemaak is dat produsente in die noordelike kommunale gebied tot die mark sal toetree met uitvoere na onder meer Ghana, die Demokratiese Republiek die Kongo en die Midde-Ooste, het daar min van gekom.”

Hy sê met die nuus dat meer entiteite tot die beesvleismark toetree, het Meatco sy produsenteprys verbeter.

“Ons verdien tans tussen 15% en 20% meer as ons Suid-Afrikaanse eweknieë – wat nog nooit vantevore die geval was nie. Die ontstaan van entiteite soos Savanna, die Rehoboth-slagpale en Beefcor het die demografie van die mark verander,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.