Ogone Tlhage – ’n Groep inwoners van Gobabis daag die onlangse oordrag van Plaas Nuwehoop aan die kantore van die goewerneur van die Omahakestreek, sowel as die van die burgemeester van Gobabis uit en sê die regte prosesse is nie gevolg nie.

Die betrokke grond het ten doel om honger, armoede en werkloosheid in die streek te takel deur middel van beoogde landbouprojekte, sê die dorp se burgemeester, Melba Tjozongoro.

Die verduideliking is egter nie gunstig ontvang nie, met beweringe dat die oordrag van die grond deur ongerymdhede ontsier word. Die groep dring daarop aan dat die betrokke twee kantore onweerlegbare bewyse toon dat die grond wettig en met konsultasie van die gemeenskap oorgedra is.

“Ons bevind onsself in ’n situasie waarin ons nie kan sê wat die voordele is wat die gemeenskap van Gobabis sal geniet nie. Ons is nie oortuig van die voordele van die projek nie,” lui ’n petisie wat deur die groep opgestel is.

“Dit totdat die goewerneur en die burgemeester ’n duidelike sakeplan wys wat elke komponent van die projek in detail uitlig en beskryf. Vir ondersteuning van die projek wil ons die registrasie sien van die regsentiteit wat toesig oor die hele projek sal hou.”

Die groep dring ook aan op ’n omvattende uiteensetting van die koste en aanvangskapitaal wat nodig is om Plaas Nuwehoop in ’n volwaardige landbouprojek te omskep.

Hulle verwys na die wet vir plaaslike owerhede wat duidelik die prosedures uitstip wat gevolg moet word, met “ons politieke ampsdraers wat aan die voorpunt moet wees om aan wetgewing te voldoen”.

“Ons het nie nodig om die wet aan te haal nie, die goewerneur en ons raadslede behoort dit te weet en daarby te leef. As die goewerneur en die burgemeester hulle sakeplan voorlê en die raad besluit om Nuwehoop aan hulle oor te dra, laat dit asseblief vir minder hektaar en ten minste vir ’n huurtydperk van drie jaar op die markverwante prys wees,” het die groep gesê.

Tjozongoro het gesê die korrekte prosedures is “tot op die letter” gevolg met ’n formele versoek wat deur Omaheke se goewerneur, Pijoo Nganate, gerig is.

Die goewerneur het glo ’n brief aan die bestuurskomitee gerig vir goedkeuring. Ten spyte van die versoek vir grond in Julie vanjaar, het die dorpsraad – nie soos geskeduleer – vergader nie, terwyl twee raadslede dit geboikot het. Dit het daartoe gelei dat die raad nie die oordrag van grond as ’n item op die agenda kon aanvaar nie.

Volgens Tjozongoro was die raad dus nie in staat om die oordrag te doen nie.

“Die burgemeester se kantoor verskil nie van die munisipaliteit self nie. Die raad as voog van die staatsgrond kan nie grond aan homself gee of oordra nie. Geen grond is gegee nie,” het sy gesê.

Tjozongoro het die beplande oordrag van grond verdedig en dit as ’n wonderlike inisiatief beskryf.

“Die goewerneur se inisiatief is wonderlik, omdat een van die plaaslike owerheid se rolle is om indirekte werksgeleenthede te skep deur ontwikkelingsprojekte, soos om grond aan ontwikkelaars te skenk en beleggers in te bring,” het Tjozongoro gesê.

Uitgebreide konsultasies sal met die inwoners van Omaheke gehou word sodra alle prosedures afgehandel is.

“Uitgebreide konsultasie met ons inwoners sal gevolg word nadat alle prosedures afgehandel is en wanneer mense in diens geneem moet word.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.