Altesaam 712 plaaslike beesprodusente het N$193,52 miljoen in die Savanna Beef Processors Limited (SBPL) belê, wat beteken boere besit nou 96,8% van Savanna.

Hierdie is die finale uitslag nadat die derde en laaste venster vir beleggers vir die beplande abattoir op 7 September gesluit het.

Die aandeelhouers het in totaal slagbeurte vir 48 380 beeste ontvang, met die slagaanleg wat 50 000 beeste per jaar sal kan slag teen die tyd wat dit volle kapasiteit bereik. As aandeelhouers sal hierdie boere voorkeur vir slagbeurte kry.

Tydens die laaste beleggingsrondte het plaaslike beesprodusente nog N$19,95 miljoen belê. Die bydraes is gemaak deur bestaande beleggers wat meer geld belê het, met 39 nuwe beesprodusente wat tot die geleentheid toegetree het.

BEMOEDIGEND

Daarbenewens het die geld wat aandeelhouers reeds belê het, rente verdien wat die totale bedrag tot ver oor N$200 miljoen stoot.

“Die Beef Value Chain Forum (BVCF) se taakspan en direkteursraad is verheug oor die resultaat, wat ons aanvanklike verwagtinge ver oortref het. Hierdie resultate sal ook ons onderhandelinge met institusionele beleggers ondersteun,” het Mecki Schneider, die voorsitter van die BVCF asook die SBPL-direkteursraad, gesê.

“Ons wil beklemtoon dat Savanna wydverspreide ondersteuning van ’n breë spektrum produsente geniet, insluitend kleiner beesboere wat net ’n bietjie aandele kon koop.

“Dit is baie bemoedigend, omdat dit ’n visie daarstel dat toekomstige voordele met almal gedeel sal kan word,” het Schneider gesê.

VERWESENLIKING

Dit volg nadat SBPL tydens sy eerste jaarvergadering op 23 Augustus in die hoofstad die groen lig van aandeelhouers gekry het om met die konstruksiefase van die voorgestelde abattoir en prosesseringsfasiliteit te begin.

Tydens die jaarvergadering is daar ook breedvoerig uitgebrei oor onder meer die vordering wat gemaak is in terme van die ingenieurswerk, die tenderproses en onderhandelinge met ’n voorgestelde tenderaar.

’n Gedetailleerde finansiële plan is ook voorgelê van hoe die projek gefinansier sal word – met die groeiende beleggings en geleende kapitaal wat sterk vertroue in die projek vestig.

Schneider het toe gesê Savanna sal help met die stabilisering van die beeswaardeketting en produkte wat vir internasionale uitvoermarkte bestem is.

“Die fokus is duidelik, naamlik om ten minste nog 50 000 speenkalwers as slagdiere groot te maak – speenkalwers wat andersins op die hoef na Suid-Afrikaanse voerkrale uitgevoer word,” het hy bygevoeg.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.