Ellanie Smit – Namibië het ’n beduidende stap geneem deur die wet op die vleisbedryf – nou bekend as die wet op lewendehaweprodukte – te wysig om die pluimvee- en suiwelsektor in te sluit.

Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) dui hierdie besluit, wat vanaf 22 Augustus in werking is, op ’n deurslaggewende skuif na groter regulering, volhoubaarheid en selfvoorsiening in hierdie noodsaaklike bedrywe.

Die wet op lewendehawe- en lewendehaweprodukte, wat beeste, skape, bokke, varke en hul vleisprodukte beheer, word nou uitgebrei om pluimvee en suiwel te dek.

“Hierdie wetsverandering stel die Vleisraad van Namibië in staat om pluimvee en suiwel te reguleer om te verseker dat plaaslike sektore groei en dus bydra tot die regering se nasionale doelwit om produksie en waardetoevoeging te verhoog.”

NUWE ERA

Die Vleisraad het in sy jongste nuusbrief gesê die Nasionale Vergadering het onlangs die wetsontwerp op lewendehawe en lewendehaweprodukte goedgekeur, wat wysigings aan die wet op die vleisbedryf behels.

“Hierdie wysigings behels die verklaring van hoender, suiwel, eiers, pelse en velle as beheerde produkte. Al die betrokke sektore het aangedui dat ’n mate van insette van die Vleisraad verwag word, hetsy in die vorm van volhoubare groei of bykomende funksies.”

Die finansiering van die funksies in die sektore sal glo op ’n soortgelyke basis as dié van beeste, skape en bokke gedoen word.

“Die voorgestelde wetgewing moet nog in die Staatskoerant gepubliseer word. Sodra dit gebeur, sal konsultasies met die onderskeie sektore in alle erns begin.”

Die NLU het gesê die nuwe wet herroep die wet op die beheer van die invoer en suiwel- en plaasvervangerprodukte.

REGULERING EN TOESIG

Daarbenewens sal die Vleisraad hernoem word na die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië om sy breër mandaat te weerspieël.

“Die Vleisraad van Namibië, met sy bewese kundigheid, sal nou toesig hou oor hierdie sektore en dit reguleer na aanleiding van sy suksesvolle bestuur van verwante bedrywe,” het die unie gesê.

Die NLU het bygevoeg dat beide die pluimvee- en suiwelbedryf hierdie besluit verwelkom het as ’n beduidende stap in die rigting van selfvoorsiening en verhoogde voedselsekerheid.

“Namibië se verbintenis tot die bevordering van groei deur strategiese regulasies bly onwrikbaar. Die regering is toegewyd daartoe om ’n florerende landboulandskap en geleenthede in diverse bedrywe te kweek.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.