Skool

Wanneer lande, gemeenskapppe en individue aan die baklei raak, beland kinders gewoonlik in die spervuur. Soos ons hier in Afrika sê, “die gras word vernietig wanneer die olifante baklei”. In die huidige oorlog in Oos-Europa, is sewe miljoen kinders verplaas, waarvan twee miljoen steeds ’n nuwe woonplek buite Oekraïne soek. Talle kinders is dood terwyl baie daagliks geteister word deur honger, siektes en omgewingstoestande. Van skool, kerk en ’n normale gesins- en kinderlewe is daar min sprake.

Kinders in Namibië word deur die Grondwet beskerm. Hierdie is nie net ’n verwysing na die verbod op lyfstraf nie; die wyse waarop die belang van kinders hedendaags in ons land nie beskerm word nie, is nog nie kwantitatief vasgepen nie. Maar, kom ons gaan soek eers na voorbeelde buite ons grense.

Kamdyn, ’n laerskoolseun in Pennsilvanië, het met ’n toetsverslag by die huis opgedaag waarop sy onderwyser geskryf het, “Absolutely pathetic. He answered 13 questions in three minutes. Sad”. Die kinders was veronderstel om soveel as moontlik antwoorde op vrae te verskaf binne die kortste moontlike tyd. Kamdyn (7) kon 13 antwoorde verskaf; nie sleg gegewe sy ouderdom nie.

Kamdyn se pa, Chris, was natuurlik ontstoke oor die kommentaar. Hy het hom tot sosiale media gewend en gesê die opmerkings is “rude, insensitive and mean”. Hy het ook die afdanking van die onderwyser geëis. Die plasing op sosiale media het onmiddellik 16 000 kommentare uitgelok en nog meer het gevolg.

Yvonne Portala het aanbeveel dat die aangeleentheid na die skoolraad verwys word. Sy voer verder aan, “… she is trying to kill this child’s selfesteem, she should not be teaching”. Erno White het nie haar woorde getel nie, “. . . teacher is a piece of crap, should not be teaching” en Brittney Guitierrez ook nie, “uneducated hag of a teacher”. Ander soos LC Garner was meer simpatiek teenoor die onderwyser, “Now that you’ve [Chris)] addressed the teacher, when are you going to address the fact that your son is lacking his math skills”.

’n Ander het aanbeveel dat die kind uit die “siek” omgewing van die betrokke onderwyser verwyder moet word. Chris het die storie na die skoolraad verwys, maar hy sou nog lank wag vir uitsluitsel. Hy het ook ’n petisie opgetrek vir optrede (wat afdanking insluit) teen die onderwyser wat deur baie mense geteken is.

Die onderwyser, Alyssa Rupp Bohenek, het nie aan die debat deelgeneem nie en was ook nie bereid om met Chris te praat nie. Die raad het wel die ondersoek geloods.

Wat is die les hieruit te leer. Eerstens, die onderwyser in wie se sorg die kind geplaas word, is veronderstel om die kind te beskerm soos ’n sorgsame ouer. Tweedens, wanneer die onderwyser besig is om les te gee, kommentaar te lewer op mondelinge antwoorde van die kind en skrifte te merk, moet dit gedoen word met die doel om die intellektuele, emosionele en geestelike kapasiteite van die kind uit te bou. Die belediging wat die onderwyser Kamdyn toegesnou het, was gruwelik, om die minste te sê. Daarvoor is sy wreed deur die gemeenskap gekruisig; iets wat sy verdien het. Elke onderwyser moet fokus op die verbetering van die kind; as ons dit nie doen nie kan ons maar die skool sluit.

Die vraag is hoe ernstig is ons met die beskerming van kinderbelange in Namibië? Dinsdag rapporteer Republikein dat 45 kinders omgekom het aan wanvoeding in Omaheke en twee in emmers water verdrink het. Wat doen ons? Sit ons maar handjies gevou en laat God’s water maar oor God’s akker loop? Een dag sal ons in die gerig hiervoor kom!

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.