“In die 35 jaar wat ek veilings hou, het ek dit nog nooit so sleg beleef soos nou nie. Daarbenewens het ek nie hoop dat veilingpryse gaan verbeter nie – nie binne die volgende twee jaar nie.”

Dit is die woorde van Piet Schrader, die eienaar van Blaauwberg Auctioneers, oor veilingpryse wat die afgelope jaar voortdurend daal en onlangs nuwe laagtepunte bereik het. Dié nuus kom op die vooraand van die speenkalfseisoen, wat vandeesmaand begin.

Schrader sê hy is veral jammer vir boere wat tans ‘n koei en ‘n kalf moet verkoop, wat nou teen ‘n gemiddelde prys van N$9 850 verkoop.

Dit volgens die weeklikse statistiek – soos dit deur die Vleisraad van Namibië bygehou word – wat op 26 Junie bekend gemaak is. Die prys vir ‘n koei en ‘n kalf was ‘n jaar vantevore – in die week van 13 Junie 2022 – sowat N$13 366.

“Suid-Afrikaanse voerkrale is onder druk, so ook Suid-Afrikaanse verbruikers, wat die grootste mark vir ons speenkalwers is,” het Schrader gesê.

Die pryse van gemengde pakkette speenkalwes was die afgelope week N$23,79 per kg en slagosse N$25,32 per kg. Daarteenoor het Meatco tot N$62,50 per kg vir slagbeeste betaal.

“Ek kan nie sien dat die pryse gaan verbeter nie. My grootste vrees is dat ons volgende jaar weer ‘n swak reënjaar gaan hê, dan sal daar chaos wees,” het hy gesê. “Die veilingbedryf ervaar nou sy ‘Covid’, terwyl dit tydens die pandemie self deurentyd goeie pryse gesien het.”

Schrader is egter van mening dat die slagosbedryf se pryse waarskynlik teen die einde van die jaar kan verbeter, met slagbeeste wat tans die beste prys by uitvoerabattoirs soos Meatco haal.

SLAGBEDRYF

Desmond Cloete, die Vleisraad se hoofbemarkingsbeampte, stem saam dat daar nie verligting vir speenkalfprodusente in die nabye toekoms blyk te wees nie.

“Rekords toon die verhouding tussen die B2-slagprys en die speenkalfprys staan tans op 43%. Sodra dit meer as 60% is, is dit meer winsgewend om speenkalwers as osse te produseer. Onder 60% is osproduksie die winsgewendste,” het Cloete verduidelik.

“Ons het wel gesien dat daar nog N$30 per kg of meer vir uitsoekspeenkalwers betaal word – kopers betaal vir goeie gehalte.”

Cloete is egter van mening dat prysverbeterings nie sal voorkom voor die dinamiek in die Suid-Afrikaanse mark nie verander nie, wat toegeskryf kan word aan hulle kragkrisis, hul verskuiwing na Botswana as ‘n voorkeurmark vir speenkalwers en die uitbreking van bek-en-klouseer.

“Weens die siekte kan Suid-Afrika tans vleis uitvoer nie, wat beteken daar is nie so ‘n sterk aansporing vir die aankoop van speenkalwers nie,” het Cloete verduidelik.

UITDAGINGS

Hy sê alhoewel die slagbedryf tans goed vaar, neem dit tyd om van ‘n speenkalfproduksiestelsel na ‘n osproduksiestelsel oor te skakel. Daarbenewens ervaar Namibië opnuut ‘n droogte en word daar nou noodbemarking gedoen.

“Ons sien tans dat baie vroulike diere geslag word. Dit het ‘n negatiewe impak op jou nasionale kuddegroei, want hulle moes jou volgende kalwers geproduseer het,” het hy gesê.

Hy sê Namibië sal slegs die slagbedryf vorentoe te kan neem as hy plaaslik meer veevoer kan produseer. “Die Vleisraad is besig om met rolspelers te onderhandel om veevoerproduksie te stimuleer, want dit is al manier hoe ons ons eie kalwers sal kan grootmaak en waardetoevoeging op eie bodem sal kan doen,” het hy gesê.

Hy sê die speenkalfbedryf se afhanklikheid van Suid-Afrika as ‘n enigste afsetpunt, sal ook onder oënskou geneem moet word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.