Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het sake in eie hande geneem om ‘n aanlyn rapporteringsplatform vir hokaairoepers op die been te bring.

Dit weens die regering se versuim om ‘n veilige hawe vir hokaairoepers te vestig vier jaar nadat die wet aanvaar is.

Mnr. Graham Hopwood van die IPPR het dié aankondiging gister gemaak by die bekendstelling van Integrity Namibia, ‘n driejaarprojek wat deur die Amerikaanse ambassade gefinansier word en niestaatsrolspelers uit ‘n breë gedeelte van die Namibiese samelewing sal betrek om ‘n nasionale teenkorrupsienetwerk te skep.

Integrity Namibia sal internasionale mobiliseringsveldtogte asook ‘n reeks navorsingsgebaseerde ingrypings behels.

Die rapporteringsplatform vir hokaairoepers is ‘n sleutelkomponent van die projek.

“Ons stel dié platform bekend omdat die regering dit so lank uitgestel het en geen aanduiding gee of die beskermingstelsel vir hokaairoepers op kort- tot mediumtermyn geïmplementeer gaan word nie.”

Hopwood het gesê verskeie verskonings, waaronder argumente oor die onbetaalbare koste, “blyk ‘n té maklike verskoning vir die regering te wees om dit net vir jare en jare uit te stel. So, ons is besig om hierdie hokaairoeperplatform op die been te bring as gevolg van hierdie frustrasie. Ons moet sê genoeg is genoeg. Ons moet nou optree. Diegene buite die regering – as ons iets kan doen, moet ons.”

Hopwood het gesê dis tyd vir die Namibiese samelewing om teen korrupsie op te tree en dit nie in die hande van ander te los nie.

“Mense voel korrupsie in Namibië is nou in ‘n ernstige stadium en ons kan dit nie net aan politici of ‘n paar instansies oorlaat nie, daar moet ‘n breë samelewingsverbintenis tot die stryd teen korrupsie wees – om diegene wat magsposisies beklee tot verantwoording te roep.”

VEILIGE PLEK

Hopwood het gesê Namibië se korrupsiesituasie het “so ernstig geword dat ons die verskillende sektore van die samelewing nodig het om op te staan. Ons het die private sektor nodig, ons het prokureurs nodig, ons het kerke nodig, ons het die burgerlike samelewing en die akademici nodig om op te staan.”

Hopwood het opgemerk dat hoewel korrupsie ernstig is, dit nog nie ‘n hopelose situasie is nie. Hy het nietemin gewaarsku Namibië is “duidelik op ‘n afdraande pad”, soos gedemonstreer deur verskeie hoëprofiel-korrupsiesake wat óf tot stilstand gekom het, nog nie tot arrestasies gelei het nie, óf onderhewig is aan voortslepende hofprosedures.

Die IPPR – wat al twee dekades lank korrupsie en die verskillende beleide wat daargestel is om dit hok te slaan, monitor – het die frustrasies inherent aan beleidshervormings in Namibië beklemtoon.

“Die mees frustrerende is miskien die geval van die wet op die beskerming van hokaairoepers, wat in 2017 goedgekeur is, maar nog nie geïmplementeer is nie. Die burgerlike samelewing beywer hom oor die afgelope tien jaar vir ‘n wet op toegang tot inligting …. Noudat ‘n wetsontwerp op die laasgenoemde in die parlement is, is ons bekommerd dit kan dieselfde pad as die hokaairoeperwet stap as dit goedgekeur word.”

‘PRAAT MET ONS’

Die beskermingsplatform sal ‘n veilige en vertroulike manier aan hokaairoepers bied om korrupsie aan te meld indien hulle verkies om nie staatsentiteite te nader nie.

Die platform se modaliteite is nog in die vroeë stadiums, maar ‘n span van verskeie kundiges is reeds in plek om seker te maak ‘n hoë gehalte platform word geskep.

“Ons hoofprioriteit is om veilige kommunikasie met potensiële hokaairoepers te hê en om hulle vertroulikheid en veiligheid te verseker,” het Hopwood gesê.

Hy het benadruk daar sal ‘n noukeurige konsultasieproses met die hokaairoeper wees oor watter stappe hulle wil volg om die inligting te ondersoek en oop te vlek.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.